Courier 50 jaar gelede

Op Vrydag 16 Augustus 1968 word daar as volg in Die Courier berig:

 

Die aanloklikheid van die R100 wat verdien kan word deur sensasionele nuuswenke aan sommige Sondagkoerante in die oor te fluister, is waarskynlik die oorsaak van die ongewenste en dikwels onregverdige berigte wat hedendaags in die Sondagkoerante oor Beaufort-Wes verskyn.

 

Volgende Saterdagaand kry Beaufort-Wes die geleentheid om werklik ‘n unieke rolprent te sien wanneer die film “The human heart transplant” hier in die Sanlamsaal vertoon word. Dr. Marius Barnard sal as gasspreker optree en daar sal tydens die geleentheid ‘n tjek aan hom oorhandig word vir die hartnavorsingsfonds.

 

W.J. Schmidt, wat virdie afgelope ses maande onderpresident van die Rotariërs was, is verkies tot president in plek van Dr. Rootman wat Beaufort-Wes aan die einde van September gaan verlaat.

 

Hoërskool Sentraal het ‘n brief van gelukwensing aan Sy Edele, Minister S.L. Muller gestuur nadat dit bekend geword het dat hy tot Minister van Polisie en Binnelandse Sake bevorder is. Minister Muller is’n oud-skolier van Hoërskool Sentraal.

 

Die kerkraad van die Moedergemeente het Ds. C.C. Bond van die N.G. Gemeente Otjiwarongo-Suid beroep. Dit is die sewende beroep wat uitgebring is na die vertrek van Dr. J.J. van As gedurende Maart vanjaar.

 

Die S.A. Polisie het ‘n bykans voldag rugbyprogram georganiseer vir Saterdag om fondse in te samel vir die S.A. Polisie Weduwee-en weesfonds. Die hoofwedstryd sal wees tussen Beaufort-Wes se eerste span en ‘n Polisiespan van die Beaufort-Wes distrik. ‘n Kerrie-en-rys middagete en ‘n braaivleis aandete sal op die sportgrondte te koop aangebied word en om die dag se verrigtinge aft e sluit sal ‘n informele dans gehou word.

 

Ons dank aan die Beaufort-Wes Museum vir toegang tot ou uitgawes van Die Courier.